“Selfdood…Selfmoord” en die monster van verwyt.

Deur: Elsabie van der Westhuizen

Onlangs terwyl ek na die dood van my moeder weer my gedagtes laat terug hardloop het na my eie kind se dood, het ek maar net skielik oor die selfmoord van haar broer gesit en dink. Ek het haar lewe betrag en gewonder hoe sy deur al haar storms en woestyne gewerk het, sonder om werklik te wys hoe sy daaroor voel. Sy was `n stil en sterk vrou. Sy het slegs een keer teenoor my die gordyn oor die geweldige skok en pyn van “selfmoord/selfdood” gelig. Kort na my moeder se dood in Desember 2015, het ek Elmarie de Vaal ontmoet wat in 2009 haar jongste seun deur selfmoord verloor het, asook `n paar jaar voor haar seun se dood, ook haar pa en broer. Haar seun het homself vergas. Ek kan myself beswaarlik indink hoeveel nagte sy met vrae wakker lê, waarvoor daar min antwoorde is. Soveel te meer wanneer mense se ongevoelige uitsprake selfverwyt en beskuldigings soos `n vuil kleed oor jou gooi. As jy deur die genade van God nie die kleed (leuens) so vinnig moontlik van jou afgooi nie, sak jy weg in `n diep put van depressive wat geen heling inhou nie.

Daar is soveel mense wat deur `n geliefde se selfdood geraak word; van ouers na broers, susters, vriende, ver en naby familie, kollegas en selfs kennisse. Dit laat almal vir `n tyd geskok stilstaan. Wanneer almal egter omdraai en aangaan met hulle lewens en die herinneringe vervaag, bly die ouer die een wat die meeste worstel. Heel dikwels moet hulle die ongevraagde en ongevoelige opinies van ander ook nog verwerk in `n reeds stukkende binnekant, met baie selfverwyt en onbeantwoorde vrae.

Elmarie de Vaal, een so moeder, het een dag in Februarie 2016 haar stukkende gemoed met my gedeel. Dis `n groot voorreg as iemand soos `n moeder haar emosies met jou deel en weet sy is veilig met haar binne geheime. Om die dood van jou kind met iemand te deel is goed, maar gee slegs tydelik verligting. Dis `n lang tydsame proses na genesing waarmee net die Here mens enduit kan help. Net Hy kan deur die Heilige Gees rus bring in jou binnekant. Hy tree as `n uitmuntende Trooster op vir God se kinders.

Ek het Pastoor Pieter Labuschagne, ons pastoor en gesinsvriend van baie jare genader en raad gevra mbt hierdie baie pynlike kwessie. Omdat ek hom ken en die wysheid van God wat deur hom werk, het ek vrymoedigheid gehad om hom te nader. Hy het `n geweldige groot rol gespeel tydens ons eie kind se dood agv `n fratsongeluk.

Pastoor Labuschagne se woorde is soos volg: “Selfmoord! Ek sidder elke keer as ek hierdie woord hoor. Eerstens is dit die skokkendste boodskap wat iemand kan ontvang, veral wanneer dit jou eie famielie of goeie vriend was. Tweedens is dit skokkend omdat dit voorkom asof mense sensasie daaruit put: “Het jy gehoor…?” “Ek wonder wat was die rede….?” Ens.

Die eronie en goeie nuus is egter dat daar nie iets soos selfmoord bestaan nie! Vreemd of skokkend om dit te hoor? Jy stem dadelik nie saam nie? Maar kom ons probeer die ergste pyn en ontssteltenis kanseleer met die volgende verduideliking:

As ‘n vader wat self ‘n seun op hierdie manier verloor het, en die skok en pyn moes verwerk, het dit my ontsettend baie getroos en gehelp om die verskil te verstaan tussen moord en selfdoding. Daar is ‘n stuk veroordeling in mense se denke en uitsprake rondom “selfmoord” wat soms uiters seer kan veroorsaak aan die betrokke agterblywendes. Die vraag is altyd teenwoordig: “Waarom het hy of sy dit gedoen?  En dan die selfverwyt: “Kon ek dit verhinder? Of Is dit nie dalk my skuld nie? Ons moet altyd onthou dat die duiwel in die Bybel “die aanklaer van die broeders” genoem word.(Op.12/10)  Hy is ‘n mensemoordenaar van die begin af (Joh.8.44)en die oorsaak van dood, maar wil die blaam altyd na iemand anders verskuif.  Onthou die Bybel sê dat die duiwel die vader van die leuen is en dat daar in hom geen waarheid is nie.  Die Heilige Gees is die Trooster.  Hy vertroos.  Moet nooit die aanklaer glo nie! Ek vertrou dat ek ‘n bietjie balsem op iemand se wonde sal plaas deur hierdie paar gedagtes neer te pen.

Moord vind plaas wanneer iemand teen sy sin, sonder sy toestemming of goedkeuring deur iemand anders gedood word. Selfdoding vind plaas wanneer iemand self besluit om ‘n einde aan sy of haar lewe te maak.  Met ander woorde, hulle neem self ‘n besluit en gee eintlik vir hulle self toestemming om hul lewe te beïndig.  Hulle val dus nie onder die beskrywing van “selfmoord” nie. Niemand het hulle “vermoor” sonder hulle toestemming nie.

Die vraag is egter of ons die reg het om ons eie lewe te beïndig aldan nie. Daar is mense wat onwetend of selfs soms wetend hulle eie lewe verkort deur dinge soos rook, drank, verdowingsmiddels, ooreet ens. Daaroor praat mense niks. Hulle maak dit af met uitsprake soos: “Dit was maar sy of haar tyd” ens.

Daar is baie redes waarom mense voel hulle kan nie of wil nie meer voortgaan met hulle lewe nie. In baie gevalle is dit die gevolg van ‘n “siektetoestand” in die brein. Te min of te veel van die korrekte afskeiding van sekere stowwe in die brein, die degenirasie van breinselle ens. Sommige mense het net nie die vermoë om groot teleurstellings of skokke of ‘n finansiële krisses te verwerk nie. Ander hoor hulle het ‘n terminale siekte en sien nie kans vir die lyding wat gaan volg nie. (Die veelbesproke onderwerp van genadedood is tans oral aan die gang).

Die vraag ontstaan altyd by my:  Indien ons as mense kan besluit of ons bv. die reg het om nog ‘n kind te wil hê of nie, m.a.w. of ons ‘n lewe wil skep deur konsepsie, het daardie persoon wanneeer hy/sy volwasse is, dan nie ook die reg om eendag op te hou om te wil  lewe nie? Ek probeer geensins om selfdoding goed te praat nie.  As ‘n gelowige glo ek dat God wil hê dat ons gesond moet wees en lank moet lewe hier op die aarde – natuurlik tot Sy eer! Ons lewe egter in ‘n gebroke wêreld waar ons elke dag te doen kry met die effek van die sondeval.

Vir diegene wie voel die lewe het vir hulle te veel geword, wil ek sê: Moet nooit God blameer nie.  God is net goed! “Al die goeie gawes kom van die Vader van die ligte af.” (Jak.1:17).Hardloop na God toe. Hy is altyd daar en bied nog steeds die uinodiging: “Kom na my toe almal wat vermoeid en belas is…en Ek sal jou rus gee”.

Ek kan heelhartig met Pastoor Labuschagne saamstem. Sy woorde bring groot wysheid en hoop omdat ek weet dat baie mense worstel en om en om in sirkels beweeg en weinig troos vind wanneer selfverwyt aan jou knaag. Om te besef wie die eintlike aanvoerder van dood is, bring groot verligting. Ek en my man het persoonlik ondervinding van `n kind se dood en ken die diep ellende waarin jou siel gedompel word. Ek ken egter ook die Een wat snags wanneer almal slaap, jou snikke hoor, jou trane sien. Hy wat ‘onsienlike balsem’ in jou gebroke hart giet en Sy onverklaarbare vrede nalaat as troos, selfs al moet jy keer op keer weer gaan vir nog `n dosis daarvan tot net die letsels oorbly.

Met Elmarie se toestemming plaas ek `n skrywe in die artikel wat die woelinge in haar moederhart verwoord. Dalk is daar iemand wat daarmee kan identifiseer. Ek het dit onveranderd ingesluit.

Skrywer: Elsabie van der Westhuizen

‘N KIND SE SELFMOORD!
(Geskryf deur hierdie stukkende mamma – 4 Maart 2013)

Dit is vraag wat elke ouer hulself afvra na die ontydige dood van ʼn kind wat sy/haar hand in sy/haar eie lewe geslaan het! Miskien was daar ʼn brief waarop jy afgekom het, maar ook … miskien was daar dalk NIE ʼn brief nie! En … of daar nou wel een was … dit maak dit nie minder erg nie, of dit maak nie dat jy nou beter verstaan en dit vinniger sal kan aanvaar nie! Maar … wanneer daar GEEN briefie agtergelos is nie, en daar GEEN voortydige tekens was nie, SOOS IN NIKS NIE … DAN vra elke ouer homself telkemale die vrae “HOEKOM?” “WAAROM?” “HOE KON EK AS OUER DIT NIE RAAKGESIEN HET NIE!” …So baie onbeantwoorde vrae … so baie!!!!

Miskien kan dit wat ek nou hier gaan vertel, help vir ander in dieselfde situasie, wanneer hulle geblameer voel EN SELFS BLAMEER word deur ander, en/of nie kan “COPE” nie – COPING DOESN’T MEAN YOU HAVE TO BE STRONG AND PUT ON A MASK! As ek hierdie woorde oor “COPE” tog maar net van die begin af gehoor het … dalk sou ek nie DAN hoef te ge”COPE” het van daardie dag af nie, die masker gedra het asof niks in die wêreld verkeerd is nie …. jy moet mos sterk wees! Jy moet mos “COPE”.

Dit het met MY kind gebeur! Op 23 Augustus 2009 om 08h00 die Sondag-oggend kry ek die mees gevreesde en gehate oproep van my lewe!!!! “ELMARIE, NIEL HET HOMSELF VERGAS!!!!” Wat dink jy het deur my gedagtes gegaan op daardie presiese oomblik toe daardie mees gehate woorde aan my oorgedra is?  In daardie oomblik van “NEE”, en “NOOIT, JY JOK”, en “KAN NIE WEES NIE”, en “NIE MY KIND NIE”, en “AG HEMELTJIE TOG, HET NIEL DAN NOU VERGEET OM DIE GASSTOOF TOE DRAAI DIE VORIGE NAG”, en “MAAR HY IS DAN NOU EERS 22 JAAR OUD … IN DIE FLEUR VAN SY JONG LEWE” … … Daardie paar sekondes om daai woorde in te geneem het, wat soos ure gevoel het, na ek daardie woorde gehoor het … onbeskryflik, deurmekaar, verward!  Amper asof ek midde in ʼn droom is en ek kan nie wakker word nie!

En ek kom daar waar hy is, en NOG steeds wil die realiteit nie insink nie! Nog steeds dink ek DIT KAN NIE WEES NIE! En dan …. dan sien ek hom … dit lyk dan net asof hy slaap!  Hy lê … en ek kyk .. en ek SIEN dis NIEL … in die deurmekaar wil ek hom optel en vashou, maar ek kan nie … ek vra “HOEKOM NIEL?” … Die volgende paar dae is soos ʼn waas … so tussendeur begrafnis reëlings en getrekkery, wil die realiteit nog steeds nie posvat nie!  Ek wag vir hom om my te bel, ek wag dat hy gou ʼn draai moet kom maak … ek wag dat hy my bel en vra: “Mammie, maak mammie weer Pap en Wors vanaand?, maar daar is niks! En ek onthou nie veel van sy begrafnis nie!

Die dae en weke en maande daarna is stukkend … ek kry myself nou nog dat ek hom net gou wil bel.  Ek gaan fisies na sy nommer op my foon …. dan slaan dit my weer tussen my oë … “HY IS WEG!”  Weg, om NOOIT weer terug te keer nie! Weg, sodat ek nooit weer sy stem sal hoor nie! Weg, net sommer weg! Vir ewig!!!!  Mense was baie lief vir Niel, want hy was net so ʼn mens, hy het mense na hom aangetrek … kon met enigeen vinnig vriende raak! En dan vra ek maar net weer “HOEKOM NIEL?”

Ek moes en moet nog steeds sterk wees vir my ander twee pragtige seuns, Johann en Shayne!! Almal mis hom … dit bly stukkend en dit bly eina! Die pyn sny soos GEEN LEM deur ʼn moeder se hart kan sny nie!!!! Asof iemand daai lem so diep indruk en draai en draai en draai … Maar ek huil nie, want ek moet mos “COPE” … ek moet ʼn masker opsit en vir die wêreld wys “Kyk, ek is sterk”, KYK, ek kan dit hanteer!  Maar jong, NIEMAND NIEMAND besef eintlik regtig HOE EN WAT dit is om ʼn kind te moet verloor as jy nie al in so situasie is nie! Dit is die stukkendste seer wat jy jou kan indink, hetsy die hand aan eie lewe geslaan of natuurlik!  Jy as moeder het daardie spesiale band met jou kinders … en wanneer een van hulle nie meer daar is nie, is dit soos ʼn stukkie van jou eie self wat uit jou uit geskeur is .. en dit bly skeur, en dit bly seer!

Dan kry mens mense wat seermaak dinge sê … asof hulle die grootste genot daaruit put om laggend te vertel “Dit is HAAR skuld dat haar kind selfmoord gepleeg het!!!”  Hoekom, waarom?  Wat is die rede hiervoor! Dra hierdie mamma dan nie GENOEG seer binne haar nie!  Hy het die keuse mos self gemaak.  Ek vra myself dan net die vraag – HET JY AL JOU KIND VERLOOR? WEET JY hoe dit voel en wat maak dit aan jou wanneer jy jou kind verloor het?  En ek sê NEE NEE NEE, JY WEET NIE!   Dan onthou ek weer MY kind se briefie aan my op een van my verjaarsdae … en ek WEET .. soos wat Jesus weet … MY SKULD is dit beslis nie … want GEEN kind skryf so ʼn pragtige en tere en liefdevolle briefie vir sy mamma vir mense om na sy onverwagse heengaan te kan sê “Dit is haar skuld nie!!!” daarom is dit my troos, ek weet wat ek weet wat ek weet!

Vandag, al is dit nog rou hier binne my, moet ek nog steeds aangaan.  Niel is nie meer daar nie, ek weet hy is weg … maar NOOIT OOIT sal hy uit my hart gaan nie … hy is diep daarin gebêre, vir ewig en altyd! Ek koester net mooi herinneringe aan my kind!  Ek onthou byvoorbeeld my laaste verjaardag – 16 Mei 2009 – en moedersdag – 17 Mei 2009 – saam met hom .. hy het vir my die mooiste bos blomme gebring, my styf vasgedruk teen hom en gesê: “Dankie vir alles mammie, ek is lief vir mammie, moet dit nooit vergeet nie” …DIT IS MAAR EEN van die mooi herinneringe wat ek van hom onthou!  En ek weet, ek het nie antwoorde oor hoekom dit gebeur het nie, maar ek troos my daarin dat as dit nie vir Jesus, my man en my kinders was nie, sou hierdie mamma dit nie so kon hanteer nie.  Want dit is net deur hulle opregte ondersteuning wat ek hierdeur kan gaan!

Moet nooit jouself verwyt vir wat jou kind gedoen het nie.  Niemand kan enigeen dwing om tot so ʼn stap te moet oorgaan nie! Niemand weet wat op daardie oomblik deur jou kind se gedagtes gegaan het nie! Ek kan net byvoeg … daardie dag was sy Bybel langs hom … en oop by Psalm 23 … hy het hierdie pragtige Psalm met groen “gehighlight!”  Hierin vind ek ook my troos dat my kind vrede gemaak het met sy besluit!

NIEL … mag al die mooi herinneringe aan jou nooit verdwyn nie my kind! Jy was altyd spesiaal! Ek mis jou elke liewe sekonde!!!
Jou mammie
❤❤❤

 

 

Elmarie se woorde wat diep uit hart gevloei het, bevestig weereens die feit dat verwyt en selfverwyt, groot ellende in `n stukkende gemoed bring. So goed of jy vee met `n stuk skuurpapier `n rou wond af. Ek kan net bydra; praat met iemand betroubaar, selfs `n professionele persoon en soek hulp by die enigste werklike Geneesheer. Moenie Hom uit jou rouproses uitsluit nie, Hy wil en kan help. Daar is hulp. Jy hoef nie die donker pad alleen te stap nie. Daar is LIG. Vir diegene wat graag met iemand wil praat en gebed nodig het, gebruik die vlg:

Suicide Crisis Line in SA – Free Suicide Helpline‎

www.sadag.org/ 080 056 7567  24 uur hulplyn

ewest@webmail.co.za

annalizawest@gmail.com

Elsabie van der Westhuizen – Kopiereg ©


 

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*